• Skip to main content

Moment Of Aware

Understand your stress before it overwhelms you.

  • Home
  • About
  • Insights
    • Stress Coaching
    • Brain Gym
    • Poetry
    • Gedigte
  • Contact

Gedigte

ontrafel

Soms voel die lewe 
soos ‘n bol wol
waarmee die kat gespeel het
en deur die muis uitgepluis is
en die hond trek dit deur die stront
en skielik
moet ek dit weer ontrafel
en in ‘n netjiese bol rol
al is daar nou laste en knope
om als een tou te hou
en dit wat jy daarmee brei
is nooit mooi nie,
maar dit hou darem warm.

2024-05-29

Eeu

100 jaar van nou af
sal my verstrooide as se atome
êrens opgeneem wees
in ‘n ander vorm
as boustene van iets of niks

sal die spasies tussen atome
groter wees as die ruimtes
wat my menswees 
eens opgeneem het

100 jaar van nou af
sal daar nie oor my lewe
geskryf of gewonder word nie,

Sal my woorde niemand meer bereik nie –
papier is geduldig, maar ink verdof
anders as spykerskrif op kleitablette.

100 jaar van nou af
is my enigste vingerafdrukke
die lewenslesse wat ek my kinders voorgeleef het
goed of sleg
en dit wat hulle daarvan aan hulle kinders voorgeleef het,

en dit wat hulle daarvan aan hulle kinders voorgeleef het…

100 jaar van nou af
kon mense kies of hulle iets van my wou laat voorteef
soos ek kon kies wat ek van my voorgangers laat voortleef het.

onbewus van die herkoms
of oorsprong

100 jaar van nou af,
was ek net ‘n oomblik se asem in die wind,

want ek is nie
Shakespeare of
Tutanukhmun nie.

2024-05-31

Plaasbeskuit

Ma eet beskuitkrummels
al is die blik propvol

onthoubrood is wit:
varsgebak met dik botter
wentelteefjes met goue stroop
blokkies in melk met bruinsuiker
dik snye met rosyne

onthoubrood is kosbaar

die lekkerste graanontbyt:
swartkoffie bekervol beskuitkrummels
waar al die afvalkrummels
tuiskarringmelk en volgraan-neute
en fancy winkelverpakkings
en geskenke
alles saam
vertel

dat die korsies van onthoubrood
die heel lekkerste is

2025-05-28
@ Inalize Cilliers

Vroegoggend

en die wintermis
fluister
stilte
en onthou

leë stoele se luister
hartklop nog warm
waar koue klankloos draal

’n enkel traan
verblind die belofte
van sagte son
wat lente mag blom

ringmure
is net pogings 
om die onthou
binne te hou

Inalize Cilliers
2025-08-23

  • « Go to Previous Page
  • Page 1
  • Page 2
  • Instagram
  • LinkedIn
  • Privacy Policy