100 jaar van nou af
sal my verstrooide as se atome
êrens opgeneem wees
in ‘n ander vorm
as boustene van iets of niks
sal die spasies tussen atome
groter wees as die ruimtes
wat my menswees
eens opgeneem het
100 jaar van nou af
sal daar nie oor my lewe
geskryf of gewonder word nie,
Sal my woorde niemand meer bereik nie –
papier is geduldig, maar ink verdof
anders as spykerskrif op kleitablette.
100 jaar van nou af
is my enigste vingerafdrukke
die lewenslesse wat ek my kinders voorgeleef het
goed of sleg
en dit wat hulle daarvan aan hulle kinders voorgeleef het,
en dit wat hulle daarvan aan hulle kinders voorgeleef het…
100 jaar van nou af
kon mense kies of hulle iets van my wou laat voorteef
soos ek kon kies wat ek van my voorgangers laat voortleef het.
onbewus van die herkoms
of oorsprong
100 jaar van nou af,
was ek net ‘n oomblik se asem in die wind,
want ek is nie
Shakespeare of
Tutanukhmun nie.
2024-05-31