• Skip to main content

Moment Of Aware

Understand your stress before it overwhelms you.

  • Home
  • About
  • Insights
    • Stress Coaching
    • Brain Gym
    • Poetry
    • Gedigte
  • Contact

Gedigte

transaksie

Soms is woorde 
te veel
of
te min.
Daar is nooit sekerheid oor die
wanbalans nie.

2010-03-26

© Kopiereg voorbehou
Inalize Cilliers

Alchemie van kuier

Vyf-minute-mense vat en tap
Tien-minute-mense sug en krap
Halfuur verduur,

maar as ‘n uur te kort word
en jou piering vol word
kan ‘n sonsondergang sirkel
tot sonop se strale

nog ‘n koppie-glasie-beker-kuiers
verkwik en vul ‘n leeftyd met
wyse kwinkslae
raakvat vrae
en hou langer as onthoubrood

transmuteer soek
‘n leeftyd van ervaar en fees

2021-09-24

Proefbalans

die aftel
en opsom
van afrond

laat ‘n gaping tussen

oor-saak
deur-dink
in-sig

en

ge-volg
wat
ver-volg

2023-10-24
© Inalize Cilliers

Gewigtig

al wat ek verloor is die gewig van
werk
studeer
verhoudings
mense
stress

en net dalk
’n millimeter
of milligram
of twee

© Inalize Cilliers, 2023-11-03

onthou jy nog

wie was ek voor ek
iemand wou wees?

voor ek
goedkeuring
gesoek het?

voor ek
myself verloor het?

2023-11-26

Fokus

‘n nuwe jaar
vol antieke vrae
verouderde stories
en ou uitdagings
wat van vorige lysis
oorstaan

as nuwe insigte
ons visie motiveer
om die regte drome
nuwe lewe te gee
kan dit alles
die moeite werd word

2024-01-01

Domino

Die hand wat die gordyn lig
is nie die regiseur nie.

Die voet wat die ritmes uitdans
is nie die choreograaf nie.

Die mond wat die woorde vrylaat
is nie die skrywer nie.

Die oor wat die applous hoor
is nie die komponis nie.

Die oog wat die resensies lees
is nie die beoordelaar nie.

Die een wat dink en pen
skep die domino se baan
sonder om soms self
die laaste buig te verstaan.

2024-04-28

Note:
Meaning of the name Domino: lord; master. A masterful title, Domino is a gender-neutral name of French origin that keeps its bearer’s eye on advantageous opportunities. From the Latin dominus, Domino means “lord” or “master,” though its ties to the ancient blocking game encourage a cautious rule. www.thebump.com

sommer net

Ek skilder nie
majestueuse tekste
of innoveer
met vernuftige tegnike
kuns wat
op papirus kulmineer
of digitaal presipiteer nie.

my woordvlegsels is vry en
speel met waarhede
in die stiltes
tussen sinne

2024-01-25

  • Page 1
  • Page 2
  • Go to Next Page »
  • Instagram
  • LinkedIn
  • Privacy Policy